Eienaar van eiendom kan nie van diensgeld wegkom
Artikel uit die Burger, 10 November 2010
Die konstitusionele hof het die howe se onverbiddelike standpunt dat eienaars van vaste eiendom verantwoordelik gehou moet word vir munisipale dienstegelde Vrydag onderskryf.
‘n Vaste eiendom in Bellevue in Johannesburg was ter sprake in die geding waaroor die 11 regters van die hof ‘n bevel uitgevaardig het.
Die eienaar van die gebou is die maatskappy Real People Housing (RPH). Die eiendom is verhuur. Die maatskappy was ontsteld toe hy ‘n rekening van meer as R106 000 van die stadsraad van Johannesburg gekry het vir agterstallige dienstegelde.
RPH se verweer in die Suid-Gautengse hooggeregshof was die stadsraad skryf in munisipale regulasies voor dat eienaars en huurders van vaste eiendom bepaalde geskrewe ooreenkomste met die raad moet aangaan oor die verskaffing van dienste.
Nog die maatskappy nog sy huurder nog een van die vorige eienaars van die gebou – wie se agterstallige dienstegelde ook van RPH geëis is - het ‘n gesrewe ooreenkoms met die stadsraad gesluit, het RPH betoog.
Dit sal dus ongrondwetlik wees van die stadsraad om eise teen die eienaar in te stel omdat dit daarop sou neerkom dat die stadsraad sy eie regulasies ‘n nulliteit maak wat geen regskrag het nie.
Die hooggeregshof het die argument verwerp en RPH het in die konstitusionele hof om appel aansoek gedoen.
Die regters van die hof het korte mette van RPH se aansoek gemaak en gesê dit word verwerp omdat dit geen vooruitsig op sukses het nie.
Daarmee het die konsitusionele hof as hoogste hof in die land dit bevestig dat eienaars van vaste eiendom nie kanse moet probeer waag wat betref hul plig om te sorg dat stadsrade se dienstegelde betaal word nie.




1 Comments:
Dankie vir die interessante blog
May 21, 2011 5:55 PM
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home