Kopersmark is nou die beste in 30 jaar
Artikel uit DIE BURGER Eiendomme, 16 Oktober 2010
Suid – Afrika se wooneiendomsmark beleef ‘n kopersmark met ‘n intensiteit wat 30 jaar gelede laas ervaar is.
Hierdie feit word egter nog nie ten volle aanvaar deur eienaars wat hul eiendom nou probeer verkoop nie. So sê mnr. Tony Clarke, besturende direkteur van Rawson Properties.
Hy wys daarop dat die Rawson Groep ‘n jaar gelede vasgestel het dat die bemarkingsprys en verkoopprys gemiddeld 15% van mekaar verskil. Dit wil sê die uiteindelike verkoopprys was 15% minder as die aanvanklike bemarkingsprys.
‘n Ontleding van die jongste verkoopsyfers dui daarop dat daardie verskil nou 22% aangegroei het.
Dit is sekerlik die duidelikste bevestiging van ‘n kopersmark wat ‘n mens kan kry, want dit is inderdaad die grootste verskil wat die afgelope 30 jaar aangeteken is.
Nuut bemarkte wooneiendomme verg nou gemiddeld vier tot vyf maande om te verkoop.
‘n Jaar gelede was hierdie wagtydperk egter net sowat ses tot agt weke.
Pogings om pryse by vorige vlakke te hou, gaan sekerlik misluk, omdat die bekostigbare huisvoorraad beskikbaar tans baie hoog is.
Beleggers, gekwalifiseerde verbandgewers of kontantkopers wat die mark slim benader, is juis nou op die uitkyk vir winskopies.
Die mark word egter skeefgetrek deur die groot aantal huise wat deur verbandnemers (finansiele instellings) teruggekoop word en eiendomme van verbandgewers (leners) wat in die moeilikheid is, wat in die mark gestort word.
“Aangesien baie van die eienaars van teruggekoopte eenhede 90% tot 108% lenings verkry het en die banke bereid is om vir 10% onder die leningswaarde te verkoop (dus nie teen die eiendomswaarde nie), kan die afslag op die eiendomswaarde tot 30% of meer beloop.
“Banke is byvoorbeeld bereid om op ‘n eiendom ter waarde van R1,1 miljoen met ‘n lening van R1 miljoen ‘n koopprys van R750 000 tot R850 000 te aanvaar.”
Indien die huiseienaar uit vrye wil sy eiendom wil verkoop, moet hy dus ook bereid wees om ‘n soortgelyke verlaging in prys (soos die banke) te aanvaar.
“Die ongemaklike feit is dat die eiendomsmark bepaal word deur wat kopers bereid is om te betaal, en kopers besef dat hulle nou goeie winskopies kan kry,” sê Clarke.
Die huidige toedrag van sake is dat eienaars dus langer aan hul eiendomme wil vashou. Indien dit nie moontlik is nie, kan die verkoper hom daaraan troos dat hy ook in baie kompeterende mark gaan koop.
Die verlies kan vergoed word wanneer die mark eendag draai.




0 Comments:
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home